Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 23 APRIL 2017

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga gelees deur ......................................................... [jou naam, roepsein en QTH]

Jy kan Sondag oggende na die Suid-Afrikaanse Radioliga nuusbulletin luister om 08:15 Sentraal-Afrikaanse Tyd in Afrikaans en om 08:30 Sentraal-Afrikaanse Tyd in Engels, op HF asook op baie VHF- en UHF-herhalers regoor die land. Echolink luisteraars kan met ZS0JPL verbind word vir 'n herleiding. 'n Potgooi is beskikbaar op die Liga se webwerf.

Hierdie oudio bulletin kan afgelaai word vanaf die Liga-webwerf by www.sarl.org.za waar jy hierdie sowel as vorige bulletins in teks formaat onder die nuus skakel aan die linkerkant van die webblad sal vind. Terwyl jy daar is, kan jy inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

ZS4 NAELLOOP VANMIDDAG

AJV REGISTRASIE VERLENG

en

IS JY NOG GELISENSIEER?

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

** Die ZS4 Naelloop, wat 'n prettige aktiwiteit is om kontakte tussen radio amateurs in die Vrystaat en radio amateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder, sal vanmiddag van 14:00 tot 16:00 UTC op die lug wees met foon aktiwiteit tussen 14:00 en 15:00 en gelykgolf aktiwiteit tussen 15:00 en 16:00 UTC. Die uitruiling is 'n RS- of RST-verslag en jou provinsiale of lands afkorting. ZS4 stasies sal 'n RS- of RST-verslag en hul dorp se naam of afkorting gee.

Kontakte met stasies in ZS4 is 2 punte werd en kontak met stasies in jou eie of ander ZS-roep areas (uitgesluit ZS4) of Suider-Afrikaanse lande is 1 punt werd. Vir ZS4 tel plaaslike kontakte 1 punt en kontak buite ZS4 tel 2 punte. Kontakte met die Bloemfonteinse ARK, ZS4BFN, die Vrystaat Radioklub, ZS4B, die Welkom Radioklub, ZS4WRC of die Sasolburg ARK, ZS4SRK, is 5 punte elk. Stasies kan een keer op ESB gewerk word en weer op gelykgolf gedurende die toegewysde tydgleuwe

Logstate, in die ADIF-, Cabrillo- of MS Excel-formaat en gemerk "jou roepsein ZS4 Naelloop" moet teen 1 Mei 2017 per e-pos aan die Sasolburg ARK gestuur word by zs4srk@gmail.com. 'n Sertifikaat word toegeken vir eerste, tweede en derde plekke in albei kategorieë.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga Nasionale Konvensie wat die Algemene Jaarvergadering en die Toekennings Dinee insluit vind plaas op Saterdag 6 Mei 2017 by Bergvallei in Muldersdrift, net noord van Johannesburg. Die geleentheid word aangebied deur die Wesrand Amateur Radioklub.

Die Wesrand ARK het SARL Nuus in kennis gestel dat die registrasienommers laag is en dat die finale datum vir registrasie tot Woensdag 26 April verander is. Om jou plek te bespreek, stuur asseblief ʼn e-pos na admin@sarl.org.za of skakel Kelley by die SARL kantoor op 011 675 2393 of Geoff, ZS6C, op 082 546 5546. Let asseblief daarop dat jou bespreking nie effektief is voordat jy die volle betaling gemaak het nie.

Indien jy nie die algemene jaarvergadering kan bywoon nie, dien asseblief jou volmag stem in.

** Op die kwartaallikse SARL/OKASA Skakeling vergadering wat hierdie week gehou is, het OKASA bevestig dat 2 100 amateur radio lisensies gekanselleer is vir die nie-betaling van lisensie fooie. Oor die afgelope paar maande het die Liga radio amateurs in nuusbulletins, nuusflitse en op die internet herinner om te verseker dat hul lisensie betaling op datum is. In Desember verlede jaar het die Liga e-posse aan lede gestuur wat agterstallig was en wie se lisensies gekanselleer sou word. Hierdie week is nog 143 lede weer per e-pos in kennis gestel.

OKASA stuur aan die begin van elke jaar fakture uit, maar baie bereik nie hul bestemming nie, dikwels omdat lisensiehouers nie hul adresse opdateer nie. Die regulasies is duidelik dat die verantwoordelikheid om die jaarlikse fooi te betaal, op die lisensiehouer is en dat OKASA nie verplig is om verantwoordelikheid te aanvaar vir die nie-aflewering van fakture nie.

Om uit te vind of jou lisensie gekanselleer is, skakel die Liga Kantoor by 011 675 2393 tussen 09:00 en 12:00. As jou lisensie gekanselleer is en jy het betaling gemaak, stuur asseblief kopieë van die betaling na DKuhrau@icasa.org.za so spoedig moontlik. As OKASA skuldig is, sal hulle die lisensie weer uitreik. In alle ander gevalle sal radio amateurs moet aansoek doen vir 'n lisensie.

** Die sluitingsdatum vir jou artikels vir die Mei-uitgawe van Radio ZS is Dinsdag 25 April 2017. Stuur die artikel na radiozs@sarl.org.za en dit sal in die Mei-uitgawe verskyn.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga. Het jy jou vriende oor amateur radio vertel?

** Lang afstande gedek in Suid-Afrika op BHF en hoër. Tydens die spits van die son siklus kan wêreldwye DX op 50 MHz (6 meter) rondom die dag-nag-ewening gewerk word. TEP DX is moontlik tussen Europa en Suid-Afrika vir die meeste van die son siklus voordat dit ook verdwyn. Al hierdie modusse is seisoenaal en nie baie betroubaar nie. EME wêreldwye DX kan feitlik daagliks op BHF, UHF, SHF en EHF gewerk word, wanneer die Maan sigbaar is en nie te naby aan die Son is nie. Dit geld ook vir amateur-satelliete en die hoogte van hul wentelbane tydens lae-elevasie vlugte wanneer afstande van ongeveer 8 000 km bereik kan word.

Daar is een algemene modus teenwoordig op die BHF, UHF en SHF bande en sukses sal afhang van die doeltreffendheid van jou toerusting. Dit is Tropo Geleiding wat dwarsdeur die jaar kan voorkom wanneer die weerstoestande gunstig is en soms baie sterk seine kan skep. Die 144 MHz (2 meter) band is die mees doeltreffende op Tropo Geleiding, aangesien die geleiding grootte normaalweg hierdie band bevoordeel. Die huidige Suid-Afrikaanse rekord staan op 3 247 km en die wêreldrekord is naby 5 000 km en kan oor die Atlantiese Oseaan en Indiese Oseane uitgebrei word. Die RSA-rekords vir die bande hierbo is: 432 MHz - 2 875 km, 1,3 GHz - 422 km, 2,3 GHz - 198 km, 5,7 GHz - 151 km, 10 GHz - 299 km en 24 GHz - 56 Km. Al die Suid-Afrikaanse rekords kan baie verbeter word as iemand wat toegewyd is, net die moeite sal neem om dit te doen. Radio-astronomie het lankal ontdek dat as jy die swakste radio- emissie van die diep ruimte wil optel, het jy GROOT-antenne stelsels nodig. Radio amateurs kan hieruit leer en hoë horisontale Yagis bou, veral vir 144 MHz!

** Nou vir baken nuus. Die 60 meter-band lisensie, wat voorheen deur OKASA goedgekeur is, sal binnekort verval. Daar is dus nuwe fokus op die ontvangsverslae van WSPR-luisteraars op 5,290 MHz. Hierdie band blyk op sekere tye van die dag baie veranderlik te wees en hoe meer inligting ons het, hoe sterker sal ons saak aan OKASA wees.

Een interessante voorbeeld van so 'n anomalie het onlangs een oggend om 05:20 UTC plaasgevind by die QTH van Ken, ZS6KN. Hy was besig om twee stasies te ontvang, wat albei sowat 60 km van hom geleë is, maar hulle het grootliks verskil tussen sein en geraas-verhoudings: ZS6SRL is ontvang teen +11 dB en ZS6GL is ontvang teen -14dB. Dit was 'n verskil van 25 dB op daardie oomblik!

Wat dit baie interessante maak, is dat die groot verskil in ontvangs seine nie deur die verskil in krag vlakke alleen verklaar kan word nie en dat die voortplantings effekte 'n groot rol in die waarnemings moes speel. Enige amateurs wat belangstel om by die span van SA Beaconeers aan te sluit ter ondersteuning van hierdie inisiatief, moet asseblief vir Leon Uys, ZR6LU, by 082 573 5580 kontak.

** ADV Buis QSO Geselligheid se datum hersien. As gevolg van die SARL se Algemene Jaarvergadering wat gehou word op Saterdag 6 Mei, is die ADV Buis QSO Geselligheid se AM en ESB kompetisie verskuif na Saterdag 13 Mei vir AM en Sondag 14 Mei vir ESB. Alle ander vereistes volgens die SARL Blouboek by dieselfde.

** Die Pretoria Amateur Radioklub sal hul volgende vlooimark op Saterdag 29 April 2017 op hul gewone plek by die Pretoria Ou Motorklub in Keuningstraat, Silverton hou. Die aanvangstyd is om 10:00 en die hekke sal om 09:30 vir verkopers oopmaak. Ons bekende boerewors-broodjies en drankies is beskikbaar. Kom geniet die oggend saam met ons. Om 'n tafel te bespreek of meer inligting te verkry, kontak Almero du Pisani by 083 938 8955 of stuur 'n e-pos na almero@up.ac.za.

* Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Krimpende sonvlek AR2651 is relatief stabiel met slegs 'n geringe kans vir sonfakkels. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 13 vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Met die dag-nag-ewening se effek nog ter sprake gaan die 10 m ook gedurende die vroeë middag verrassings oplewer. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** Nou vir die Dagboek van Gebeure:

Vanmiddag - die ZS4 Naelloop
25 April - sluitingsdatum vir artikels vir Radio ZS
29 April - PARK vlooimark by Pretoria Ou Motorklub
6 Mei - Die Suid-Afrikaanse Radioliga Nasionale Konvensie
13 en 14 Mei - die ADV AM en ESB QSO Geselligheid
20 Mei – die Radio Amateur Eksamen
21 Mei – die ZS3 Naelloop
25 Mei – die sluitingsdatum vir die Junie Radio ZS
28 Mei – die SARL Digitale Kompetisie

Om hierdie bulletin mee af te sluit, 'n herhaling van ons belangrikste item in die nuus vanoggend.

Die ZS4 Naelloop, wat 'n prettige aktiwiteit is om kontakte tussen radio amateurs in die Vrystaat en radio amateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder, sal vanmiddag van 14:00 tot 16:00 UTC op die lug wees met foon aktiwiteit tussen 14:00 en 15:00 en gelykgolf aktiwiteit tussen 15:00 en 16:00 UTC. Die uitruiling is 'n RS- of RST-verslag en jou provinsiale of lands afkorting. ZS4 stasies sal 'n RS- of RST-verslag en hul dorp se naam of afkorting gee.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 3 230 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB, en gelees deur ...........................................................

73 en 88, dankie dat jy geluister het.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003